Krotoa


Tolk, onderhandelaar en vredemaker (1642 - 1674)

Krotoa is in 1642 gebore in die Camissa-handelsgemeenskap, wat die hawe van Kaapstad gevestig het. Haar naam beteken 'n dogter “onder voogdyskap van ander”. Haar oom, die Hoofman Autshumao, het die handelspos gevestig. Hy was 'n leier van een van die Khoe- of Khoena-groepe, genaamd die Goringhaicona (dié wat weggedryf het). Die Camissa (//Ammi i ssa of Soet Water) is 'n rivier wat van Tafelberg (Hoerikwaggo) af na die see by Tafelbaai vloei. Dit was die kontakpunt tussen die inheemse mense en skepe wat langs die kus van die Kaapse Skiereiland (//Hui !Gaeb) verby gevaar het.

 
 

Vir 52 jaar voor die aankoms van Jan van Riebeeck het 'n hawegemeenskap, waarna die matrose as die Watermans verwys het, in drie stadiums ontwikkel. Die eerste stadium van ontwikkeling was eenvoudige opportunistiese handel tussen skepe en die inheemse mense. Die tweede stadium het gevolg nadat Hoofman Xhore van die Goringhaicona-volk in 1613 ontvoer is en na Londen geneem is. Met sy terugkeer is 'n meer formele benadering tot handel gevolg deur middel van 'n tussenganger – Xhore. Die derde fase het in ongeveer 1630 begin toe Autshumao saam met die Britte na Java gegaan het en na die Kaap teruggekeer het. Hy is deur die Britte gehelp om 'n handelsgemeenskap met inheemse mense te begin. Dit het gelei tot 'n formele handelstasie en hawe vir vaartuie wat die Kaap besoek het. In sy joernale erken Jan van Riebeeck dat Autshumao baie bewus was van sy rol in die vestiging van die hawe. Hy sê: “Herrie (Autshumao) dink dat dit hy was wat die aanvanklike handel begin het…”


Blootstelling aan baie tale

Die Camissa-nedersetting was 'n vry, nie-gekoloniseerde groeipunt wat deur die inheemse mense bedryf is. Sedert 1600 het al meer skepe van Europa na die Ooste gevaar en by Tafelbaai aangedoen. Sedert 1600 het 1 071 skepe met meer as 200 000 reisigers net op uitwaartse reise deur die hawe beweeg en die bemanning en passasiers het tussen 6 weke en 9 maande oorgebly. Die inheemse mense by Camissa het ander groepe verlaat en 'n nuwe ekonomie van handeldryf en fasilitering, asook 'n kommunikasiediens, begin. Hulle het gehelp om hout te versamel om skepe te herstel, hulle het sout gemyn en verkoop, hulle was tussengangers vir vleisvoorrade, ensovoorts. Die hawe het seevaarders van Holland, Frankryk, Engeland, Portugal en Denemarke bedien. Dit was nie 'n dorre plek met primitiewe gemeenskappe wat, soos wat in sommige koloniale geskiedenisboeke uitgebeeld word, nooit voorheen met Europeërs te doen gekry het nie. Dit was die wêreld waarin Krotoa gebore is en waar sy tot die ouderdom van 10 gebly het. As gevolg van haar oom Autshumao se prominente posisie is sy aan baie tale en nuwe idees blootgestel. Krotoa is moontlik, op grond van beskrywings van haar voorkoms, gebore uit 'n verhouding tussen 'n Europese reisiger en 'n Khoe-vrou in hierdie hawe-omgewing.

Kommandeur Jan van Riebeeck van die NOIK het haar in diens geneem as bediende vir sy vrou. Hy het waarskynlik raakgesien dat sy talle talente gehad het. Daar is nie eenstemmigheid oor hoe dit gebeur het dat Krotoa in die Van Riebeeck-huishouding beland het nie. Volgens sommige mense is sy moontlik ontvoer, terwyl ander beweer dat dit die gevolg kon wees van 'n ooreenkoms tussen haar oom Autshumao en Van Riebeeck.

Jan van Riebeeck se vrou, Maria de la Quellerie van Riebeeck, was 'n relatief jong vrou van 22 wat met een van haar eie kinders en twee weeskinders van 'n familielid in die Kaap aangekom het. Maria was siek en sy was feitlik elke jaar swanger terwyl sy aan die Kaap gebly het. Sy het een miskraam na die ander gehad. Sy is twee jaar nadat sy die Kaap verlaat het oorlede. 

Gedurende die tydperk wat Krotoa vir Maria van Riebeeck gewerk het, het haar Hollands aansienlik verbeter en is sy as tolk vir die Kommandeur gebruik. Sy het tien jaar van haar lewe by die Van Riebeecks deurgebring en vir ses van hierdie tien jaar was sy 'n tolk vir die NOIK, 'n onderhandelaar en diplomaat.

Jan van Riebeeck het aanvanklik haar werk geprys, maar later het hy haar begin wantrou en haar selfs met minagting behandel. Hy het gekla dat Krotoa spekskiet in haar tolkwerk en dat sy hom mislei het, oordryf het, vir hom gesê het wat sy gedink het hy wil hoor, eerder as wat sy die waarheid gepraat het. Hy het te kenne gee dat sy dislojaal was en nie vertrou kon word nie. In hierdie tyd is Krotoa se oom Autshumao as ’n vyand van Van Riebeeck beskou, en die gemeenskap van Camissa is afgemaai. Krotoa het brûe tussen haar en haar suster (wat in die Cochoqua-stam ingetrou het) gebou na die magtige Hoofman Oedasoa.


'n Dominante faktor

Krotoa is in die draaikolk van maatskaplike en ekonomiese veranderinge vasgevang en het met hierdie golf van veranderinge gestoei. Sy het dit relatief goed gehanteer vir 'n vroulike tiener in die wêreld van ruwe mans. Hierdie omstandighede het haar in die gevaarlike en onsekere wêreld van politiek laat beland en sy het haarself in hierdie omgewing as 'n baie sterk en vurige persoon bewys.

Haar belangrike rol in die vroeë Hollandse besetting van die Kaap word beklemtoon deur die feit dat Kommandeur Van Riebeeck in 1654 eers 'n eenvoudige aantekening oor Krotoa in sy joernaal gemaak het deur te verwys na “'n meisie wat van die begin af by ons bly in diens van my vrou.” Later het Kommandeur Van Riebeeck haar naam meer as 200 keer in 65 inskrywings in die joernaal genoem. Krotoa was 'n dominante faktor gedurende die hele tyd wat Jan van Riebeeck in die Kaap die Goeie Hoop was. 

Gedurende haar vroeë jare by die Van Riebeecks was Krotoa soos een van ses kinders. Daar was Maria se seun, die twee kinders van 'n familielid, sowel as twee Arabus-slawemeisies wat net so oud soos Krotoa was. 'n Franse seevaarder het die Arabus-meisies vir die Kommandeur gegee. Nadat Jan van Riebeeck Krotoa begin wantrou het, het hy die dienste van 'n ander Khoe-tolk, Nommoa of Doman, bekom om te probeer om Krotoa te ontmasker. Hy het vyandigheid tussen die twee hoogs mededingende tolke aangeblaas.

Hul posisies het hulle in staat gestel om handel te dryf tot hul eie voordeel (hoofsaaklik vee) en dus is die vyandigheid verder aangeblaas. Krotoa het waarskynlik haar beeste aan Autshumao gegee om op te pas.


Uiters onafhanklik en slim

In die ses jaar wat Krotoa as tolk opgetree het, het sy ontwikkel tot 'n uiters onafhanklike en baie slim jong vrou. 'n Jong meisie aan die begin van puberteit moes sterk wees in 'n wêreld met 140 ruwe mans in die Europese en slawegemeenskap van 146 (vroue uitgedun) waar geen beskerming vir haar gewaarborg is nie. Twee jaar nadat sy by die fort begin werk het, het Krotoa saam met haar oom weggeloop en sy moes na die fort teruggebring word nadat Van Riebeeck hulle agterna gesit het. Tussen die ouderdom van 12 en 15 is sy verder onderrig in tale, godsdiens en die kultuur van die Hollanders. Dit is nie om filantropiese redes gedoen nie, maar sodat sy as tolk en diplomaat kon optree. Daar is gevind dat sy 'n aanleg sowel as flair vir die werk gehad het toe die Kommandeur haar 'n paar keer in hierdie rol laat optree het. Die Kommandeur het in sy joernaal aangedui dat sy reeds op 15 tolkwerk gedoen het. 

Hoewel sommige skrywers probeer om aan te toon dat Krotoa soos 'n pleegkind van die Van Riebeecks was en dat sy 'n vroom Christelike tiener was, verskyn daar niks in die rekords wat aandui dat dit wel die geval was nie. Die feite toon inderdaad die teenoorgestelde. Die Van Riebeecks het geen poging aangewend om Krotoa te laat doop nie en dit was die enigste manier waarop sy as 'n Christen en Burgher beskou sou word. Dit was 'n teken van nie-integrasie met die Hollandse gemeenskap. Sy het ook nie soos die Europeërs aangetrek nie, maar eerder soos die slawe en knegte. Sy is eers gedoop net voor die Van Riebeecks die Kaap verlaat het. Sy was slim genoeg om te weet dat die doop sekere status en beskerming aan haar sou verleen. Sy is op haar eie versoek op die ouderdom van 22 gedoop. Die Hollanders het haar naam na Eva verander. Haar rol as 'n tolk met spesiale status het, net soos haar beskerming deur Jan van Riebeeck, skielik tot 'n einde gekom.

Teen die tyd toe Jan van Riebeeck vertrek het, het die Kommandeur die leiers van die NOIK teen Krotoa gewaarsku. Hy sê in sy joernaal dat die saak so ernstig was dat hy dit nie kon neerskryf nie en dat hy sy bekommernisse net mondelings kon oordra. Daar is vermoed dat sy haar mense gehelp het deur strategiese inligting en advies aan hulle te gee, veral gedurende die eerste oorlog tussen die Khoe en die Hollanders van 1659 – 1660. Krotoa was 'n baie slim en wyse jongmens. Sy moes self ook ingesien het dat sy in 'n sterk posisie was om nuttige inligting en waarskuwings oor te dra en om goeie raad te gee aan haar mense. Jan van Riebeeck gee 'n sterk aanduiding dat dit moontlik die geval was.


Tradisievas

Kommandeur van Riebeeck het aangeteken dat die kind, die tiener en die jong volwassene oor die tydperk van 12 jaar gereeld haar Asiatiese klere — kabaka, sarong en kaparangs — uitgetrek het en weer haar tradisionele Khoena-klere (van vel) en -versierings aangetrek het om saam met haar mense aan rituele deel te neem. Volgens alle bronne het sy dit baie geniet en was sy baie trots daarop om dit te doen. 

Krotoa was tot 'n mate verward oor wie sy was – Eva of Krotoa. Aan die een kant is sy opgeneem in die wêreld van Europa en terselfdertyd is sy verhoed om deel te wees van die Khoena. Sy is deur haar hanteerder, die Kommandeur, gelei, ingelig en ondervra. Sy is gevra om tussen haar mense in te gaan en om dan verslag te kom doen. Van Riebeeck wou terselfdertyd nie gehad het dat sy lank sonder 'n chaperone tussen haar mense moes bly nie. Sy is soms ook gevra om na haar mense te gaan en hulle te mislei. Sy het die hartelose en manipulerende kant van die Kommandeur beleef. Hy was 'n hardekoejawel amptenaar van die NOIK wat die een dag die belange van 'n magtige kompanjie beskerm het en Krotoa die volgende dag lof toegeswaai het. Daar was geweldig baie teenstrydighede. As 'n mens tussen die lyne lees in Van Riebeeck se joernaal, kon sy na mate sy volwasse geword het al minder deur Van Riebeeck gemanipuleer word en was sy verdeeld in haar lojaliteit tussen die NOIK en haar mense. 

Jan van Riebeeck was 37 jaar oud toe Krotoa tolkwerk gedoen het. Van Riebeeck was 'n bonkige werknemer van die NOIK, het reeds begin bles raak en het 'n ruwe gesig gehad. Voor hy na die Kaap gestuur is, het hy 'n pos in Viëtnam beklee en hy was geweldig bevooroordeeld teen inheemse mense. Hy was 'n oneerlike man wat uitgevang is dat hy die NOIK bedrieg het en dat hy homself ten koste van die NOIK verryk het. 

Ons kry 'n goeie idee van sy beledigende houding as ons sy verslag aan die NOIK na sy 18 dae lange besoek aan die Kaap in 1647 vergelyk met die hoofverslag van Kaptein Janzsens wat 'n jaar aan die Kaap deurgebring het. Laasgenoemde was van mening dat die inheemse mense goeie mense was om 'n vennootskap mee te begin. Van Riebeeck was neerhalend en as iemand wat nie eerstehandse kennis gehad het nie, het hy die situasie verkeerd voorgestel met sy minagtende siening van 'n voorval tussen 'n paar van Janzsens se manne en die inheemse mense. Hy het die (regverdige) manier waarop die Kaptein die voorval gehanteer het, bevraagteken.


Van Riebeeck se plan vir gedwonge verwyderings

In Van Riebeeck se briewe aan die NOIK is bewys gevind dat hy toestemming wou hê om planne vir gedwonge verwyderings uit te voer om van die inheemse mense van die skiereiland ontslae te raak. Jan van Riebeeck was die vader van die tendens van “gedwonge verskuiwings” en “groepsgebiede” in ons geskiedenis. Krotoa se lewe het uit een trauma na die ander bestaan. Dit was 'n lewe vol gevaar. Die Hollanders het haar nie vertrou nie, en onder haar eie mense het verskeie mense met verskillende belange haar ook gewantrou. Terselfdertyd sou sy heel moontlik wonderlike geleenthede rondom haar raakgesien het en sy sou sekerlik self groot drome gehad het. 

By tye kon sy gelukkig gewees het by haar eie mense en hulle kon haar soos 'n prinses behandel het, maar ander kere was sy omring deur Europese mans wat vir haar alkohol gegee het en snags by haar in die bed gekruip het. Krotoa moes groot innerlike onrus ervaar het en soos enige mens wat in sulke situasies was, het sy vindingryk en straatwys geword. 

Haar vaardighede as 'n diplomaat en tolk het vir haar baie beteken. Die verkeerde woord in die verkeerde geselskap kon tot vergelding en selfs die dood lei. Wat 'n verantwoordelikheid was dit nie vir 'n jong meisie nie! Daar was ook intense tydperke van gewelddadige konflik en oorlog. Buiten al hierdie ervarings, was sy later 'n jong ongetroude ma met twee klein kinders. In haar laat tienerjare het Krotoa twee “buite-egtelike” kinders by die fort gehad. Dit dui daarop dat sy moontlik as 'n tiener misbruik is in hierdie oorwegend manlike omgewing. Daar is tekens dat daar moontlik misbruik was en dit sou meegebring het dat sy alkohol begin gebruik het.

Hierdie aspek van haar ervaring – alkohol – sou 'n vernietigende effek op haar toekoms hê. In 'n fort en omgewing waar daar oorwegend Europese mans was, sou 'n gekleurde kind wat boonop 'n inheemse kind was, 'n prooi gewees het vir hierdie wilde, ongepoetste mans. Die gebruik van alkohol en tabak was die Kommandeur se beleid om die plaaslike mense, sowel as die 400 slawekinders wat in 1658 siek en sterwend uit Wes-Afrika aangekom het, te beheer. Dit lyk asof Krotoa ook met alkohol en tabak gepaai is. Dit het haar op 'n pad van vernietiging geplaas.


Krotoa vind haarself

Krotoa het veral tussen 1656 en1662 ontluik en haarself gevind. Sy het die situasie waarin sy gebruik en gemanipuleer is verander na 'n situasie wat tot haar en haar mense se voordeel gestrek het. Krotoa se belangrikste kritikus was haar mededinger, die ander tolk en openlike teenstaander van die Hollanders, Nommoa of Doman. Hy het haar gekritiseer en geïmpliseer dat sy haar mense in gevaar gestel het. Krotoa en Doman het gebots oor wie die bekwaamste tolk was en Doman het haar met beskuldigings uit die saal probeer lig. Hulle het mekaar van allerhande dinge beskuldig.

Krotoa het sekerlik uitstekende tolk- en diplomatieke dienste aan die Hollanders gelewer, maar sy het ewe goeie dienste aan hoofman Oedasoa en haar mense gelewer. Dit blyk ook uit Van Riebeeck se joernaal dat sy dalk stilletjies inligting aan die 

Cochoqua verskaf het vir hulle meer subtiele stryd teen die Hollanders. Die inligting wat sy gedurende die Khoena-Hollandse oorlog van hoofman Oedasoa oorgedra het, het besonderhede bevat wat ten gunste van die Cochoqua se posisie was. Sy het ook groot lojaliteit teenoor haar oom Autshumao getoon toe hy vir die Hollanders 'n onbelangrike persoon geword het. Kommandeur Van Riebeeck het dit alles raakgesien en kommentaar gelewer daarop. 

Om Krotoa se weerstandsrol te verstaan, moet 'n mens na die Khoena se algemene weerstandstrategie kyk – 'n strategie wat uiteindelik misluk het na die tweede oorlog tussen die Khoena en die Hollanders. Die Khoena-strategie was een van beperking, naamlik om die Hollanders deur middel van 'n blokkade van die binneland te isoleer en om hulle ekonomies afhanklik te hou van die skiereilandse Khoena. Jan van Riebeeck se teenstrategie was om uit te breek uit enige blokkade en om direkte kontak met die binneland te bewerkstellig deur middel van die taktiek van verdeel en oorheers.


Khoena-verdelings

Die Khoena se swak punt was die verdelings onder hulself. Daar was drie hoof- taktiese benaderings tot handel met die Hollanders en dit het ongelukkig met mekaar meegeding. Krotoa het 'n belangrike rol gespeel as 'n bondgenoot van hoofman Oedosoa. 

Autshumao se taktiek was om druk op die Hollanders te plaas om ingesluit te bly in die Tafelbaai-gebied en om van die Goringhaicona afhanklik te bly vir alle handel met die binneland. Hy het baie moeite gedoen om seker te maak dat direkte kontak tussen die Hollanders en die ander Khoena-stamme tot die minimum beperk was. Autshumao het die bedreiging van die Engelse ook teen die Hollanders gebruik omdat hy geweet het die Hollanders is bang vir die Engelse. Autshumao en sy klein Camissa-groep is egter gou deur die Hollanders oorweldig. Tydens die eerste oorlog tussen die Hollanders en die Khoena het Van Riebeeck 'n beloning geplaas op die koppe van al diegene wat met die Camissa/Goringhaicon-handelspos geassosieer kon word. Hulle is in 'n lokval uitgewis. 

Autshumao het net oorleef omdat hy op Robbeneiland gevange gehou is. Die tweede taktikus was Nommoa, wat ook as Doman bekend gestaan het en wat baie van die Hollanders se swak punte leer ken het tydens sy reise na Batavia (Jakarta) en terug na die Kaap. Sy taktiek was soortgelyk aan dié van Autshumao, maar daar was ook beduidende verskille. Volgens hom was Authshumao se Camissa-volk te klein in getal, nie militant genoeg nie en ongedissiplineerd. Nommoa het probeer om die Hollanders se afhanklikheid van Autshumao, asook van Krotoa, te vervang met afhanklikheid van homself. Hy het ook probeer om 'n verenigde front tussen die Goringhaiqua en Gorachoqua te bewerkstellig om saam te staan teen die Hollanders. Hy het uiteindelik 'n militêre oplossing gehad deurdat hy gevoel het as hulle oorlog sou maak, die Hollanders sou oorgee. Die skiereilandse Khoena het onder Nommoa aan die eerste oorlog tussen die Khoena en die Hollanders van 1659 – 1660 deelgeneem. Die konflik het op 'n dooie punt uitgeloop, maar die gewonde Nommoa se mag en invloed is verminder. Dit Hollanders het aansienlik gebaat by die oorlog. 

Die derde taktiek is deur Hoofman Oedasoa van die Cochoqua gebruik. Die inperkingstrategie het 'n totaal ander benadering gevolg deur 'n taktiek wat in wese diplomasie en waagsaamheid behels het. Oedasoa het groot troppe beeste gehad wat buite die onmiddellike bereik van die Hollanders was en hy het groot getalle mense gehad om hulle teen te staan en in die skiereiland te isoleer. Hy moes egter sy hele operasie nader bring om 'n blokkade te vorm en direkte handel te kon dryf. 

Hy het ook te staan gekom voor die vyandigheid van al die skiereilandse Khoena-stamme. Hoofman Oedasoa moes versigtig wees. Hy moes òf die skiereilandse Khoena aan sy beheer onderwerp, òf hy moes hulle na sy kant oorhaal om 'n verenigde front te vorm. Hy het dus te werk gegaan op 'n manier wat albei opsies oop gehou het.


Verdeel en oorheers

Oedasoa het geweet indien hy die gebied wat deur die Hollanders beset word stukkie vir stukkie sou binnedring, en as klein groepe Cochoqua deurlopend deur die Skiereilandse Khoena aangeval word, die Hollanders uiteindelik die oorhand sou kry deur die taktiek van verdeel en oorheers. Hoofman Oedasoa het sy vrou se suster, Krotoa, se vaardighede gebruik en probeer om 'n aanbod, wat hy geglo het nie geweier sou kon word nie, aan die Hollanders te maak. Hy het aangebied om sy beeste en mense na die Skiereiland te bring, waar hy orde onder die Khoena sou handhaaf solank die Hollanders hom hiermee sou help en die enigste en direkte handelsverhouding met die Cochoqua sou begin. Dit sou in werklikheid die Cochoqua die enigste Khoena-gesag in die streek gemaak het en die Khoena-teenwoordigheid sou groot en ekonomies magtig genoeg gewees het. Hy het geglo as die Hollanders omring word, dit hulle doeltreffend in toom sou hou.

Krotoa het 'n baie belangrike rol gespeel om hierdie strategie uit te voer. Sy het eers haar rondtes gedoen om genoeg beeste bymekaar te maak om vir Van Riebeeck 'n voorsmakie te gee van die ekonomiese winste wat hy kon maak. Daarna het sy ontmoetings op die hoogste vlak tussen Jan van Riebeeck en die Cochoqua gereël. Laastens het sy, as tolk, die saak van vir Cochoqua vurig verdedig. 

Van Riebeeck het egter onraad vermoed. Hy was nie meer seker waar Krotoa se lojaliteit gelê het nie. Hy het geweier om by Hoofman Oedosoa in te val. Hy wou gehad het dat die Cochoqua lojaliteit aan die Hollanders moes bewys deur met hulle saam te werk teen die skiereilandse Khoena. Dit sou daarop neerkom dat 'n doring uit die vlees van die Hollanders verwyder word sonder dat daar enige onmiddellike voordeel vir Oedosoa sou wees. Die hoofman was egter geen gek nie en hy het besluit om weg te stap van die onderhandeling. Hy het vir Van Riebeeck gesê dat hy nie deel sou wees van die oorlog teen die ander Khoenas nie.


Dood en vertrek

Die diplomatieke waagsaamheid van die Cochoqua deur middel van Krotoa, het nie oorwinning gebring nie. Oedosoa se stryd het na Van Riebeeck se tyd nog 'n dekade geduur. Krotoa het haar en haar lojaliteit aan haar mense egter self ontmasker en sy sou 'n hoë prys daarvoor betaal. Haar rol as tolk en onderhandelaar het skielik tot 'n einde gekom en haar verhouding met haar beskermer, Jan van Riebeeck, het versuur. Dit het haar plek in die Hollandse gemeenskap by die fort bedreig. 

Van hierdie punt af verskyn net 'n paar inskrywings oor Krotoa in die Kommandeur se joernaal. Die laaste inskrywing oor Krotoa as 'n tolk is in 1661 gemaak. Teen 1662 was die Kommandeur en sy gesin op die punt om die Kaap te verlaat. 

Nadat die skiereilandse Khoena onderwerp is, was die Hollanders en die Cochoqua vir 'n dekade lank in botsings betrokke en dit het uiteindelik aanleiding gegee tot die tweede oorlog tussen die Khoena en die Hollanders. In hierdie oorlog is die Cochoqua en die Khoena-strategie van inperking vernietig. Die invoer van perde (kavallerie), meer soldate en gewere, het die Hollanders die strategiese voordeel in die oorlog besorg. Mobiliteit en vuurkrag, sowel as hulle strategie van verdeel en beheer, was die sleutel tot hulle sukses.

Krotoa se lewe het in 1662 dramaties verander toe Kommandeur Van Riebeeck die Kaap verlaat het. Dit het ook saamgeval met die dood van haar oom Autshumao, haar ma se dood en die dood van haar suster (die vrou van hoofman Oedosoa).

In die lig van haar oom, ma en suster se dood, asook die groeiende wantroue deur die Hollanders, die dood van die paar Hollandse vriende wat sy nog gehad het, en die feit dat haar belangrikste beskermers, die Van Riebeecks, op die punt was om die Kaap te verlaat, moes Krotoa een of ander vorm van sekuriteit vind. Sy moes alles wat sy geleer het, gebruik om haar volgende skuif te maak. 

Sy het 'n mate van sekuriteit gevind deur te versoek om as 'n Christen gedoop te word en deur 'n huwelik te sluit wat beskou kon word as 'n gerieflikheidshuwelik met 'n NOIK-amptenaar. Hoewel party Europeërs hierdie huwelik as 'n skandaal beskou het en daarteen gekant was, was dit nie net vir Krotoa gerieflik nie, maar ook vir die NOIK aangesien dit 'n manier gebied het om Krotoa sonder 'n groot bohaai uit die openbare oog te kry. Die NOIK kon sy amptenare se lewens manipuleer soos wat hulle wou.


Huwelik

Krotoa is met 'n Deen, Peter Havgardt, getroud. Weens 'n gebruik wat deur die NOIK afgedwing is, het hy die Hollandse naam Pieter van Meerhof aangeneem. Hy was bekend as die NOIK-dokter (wat in daardie tyd as barbiers bekend gestaan het) wat verantwoordelik was vir amputasies. Die huwelik was in werklikheid net nog 'n voogdyskap en het die kompanjie in staat gestel om Krotoa en Van Meerhof vinnig weg te stuur om pligte op Robbeneiland uit te voer ... 'n tipe verbanning. Dit het twee dinge meegebring – dit het Krotoa verhoed om inligting aan haar mense te verskaf en dit het verhoed dat sy tussen die opkomende burgery beweeg waar die teenwoordigheid van die jong Khoena-vrou 'n verleentheid was, veral weens die mans se vorige flankeerdery in die tyd toe daar min vroue was. Krotoa het op Robbeneiland aan nog 'n kind geboorte geskenk. Sy was afgesny van haar mense en haar lewe by die fort en sy moes selfs meer mishandeling verduur. Van Meerhof het eenkeer “mediese bystand” van die vasteland af versoek omdat Krotoa beseer is. Hy het beweer dat sy gesit het, omgeval het en haar kop teen die kant van 'n trap gekap het. Sy was drie dae lank bewusteloos. Die dokter wat na haar gaan omsien het, het bevind dat sy skedelbreuk opgedoen het. Dit is kwalik die tipe besering wat 'n mens opdoen as jy van jou sitplek afval.

Pieter van Meerhof het moeg geword vir Robbeneiland en het die eiland periodiek vir ekspedisies verlaat. Nadat hy nog 'n kind by Krotoa gehad het, het hy die geleentheid aangegryp om op 'n slawesending na Madagaskar te gaan. Hy is tydens dié ekspedisie dood. Sy rol in die “mak maak” van Krotoa het stoom verloor en daar is bewys dat die NOIK planne gehad het om hom in 'n senior pos in Mauritius aan te stel. Die kort huwelik tussen Pieter en Krotoa het begin verbrokkel.


Weduwee

Hulle was net drie jaar getroud. Na haar man se dood is Krotoa tydelik weer op die vasteland toegelaat. Sy het probeer inpas by die Europese wêreld wat so anders was as die wêreld waarin sy as tiener gebly het. Sy was vir die eerste keer nie meer 'n “beskermling” nie. Die wêreld om haar het egter verander en het nuwe vaardighede vereis. Sy het egter nie meer 'n magsbasis gehad nie. Krotoa het nog twee oorlewende kinders gehad wat as buite-egtelik beskou is. Sy is deur die mense van die hoër stand verwerp en gedwing om “haar plek te ken” tussen die “vry swartes” en laer klasse, hoofsaaklik mans, wat haar net as 'n drinkmaat wou hê en wou hê dat sy hulle seksuele behoeftes moes bevredig.

Met Van Meerhof se dood het die las van die jarelange trauma en ontwrigting swaar op haar gerus. Die toenemende afhanklikheid van alkohol, waaraan sy waarskynlik in haar kinderjare die eerste keer blootgestel is, het haar oor die afgrond gestoot. Haar kinders is weggeneem van haar, sy is gesoek, in die kerker opgesluit en daarna na Robbeneiland verban. Sy was weer 'n “beskermling” van die NOIK en die Nederduits Gereformeerde Kerk. Haar kinders het “beskermlinge” van die kerk geword. Die ouer kinders is na 'n bordeeleienaar gestuur en die jonger kinders is na die “vry swart” Everts-gesin gestuur.

Gedurende hierdie tyd op Robbeneiland, in 1673, het ene Willem ten Rhijne, 'n Hollandse besoeker aan die Kaap, Krotoa beskryf as “... 'n meesterstuk van die natuur. Sy het Christenskap omarm, vlot Engels, Duits, Frans en Portugees gepraat en sy was vertroud met die Heilige Skrif. Om dit kort te stel, sy was uiters lofwaardig, opgelei in alle vaardighede vir vroue en getroud met een van die dokters wat vir die kompanjie gewerk het.” Hierdie beskrywing is in skrille kontras met die prentjie wat die Kerkraad en die owerhede van die NOIK destyds van haar geskilder het. 

Die historikus Karel Schoeman wys daarop hoe hierdie weergawe deur Willem ten Rhijne en nog 'n positiewe aantekening in 1672 deur JP Cortemunde skerp in kontras is met die vertellings in Kommandeur Zacharias Wagenaer se joernaal vir 1671 – 1674, waarin hy na Krotoa verwys as iemand wat “besig is om haar dood te drink” asook na haar “skandelike onkuisheid”.

Daar was slegs 'n dun skeidslyn tussen Krotoa se verhouding met haar eie mense en dié met die Hollanders en toe dit in die tyd van oorlog werklik saak gemaak het, is sy in die middel vasgevang.


Verag deur die Hollanders

Sy het ook 'n voorstander geword van die Cochoqua-strategie om die Hollandse nedersetting te isoleer en om 'n billike handelsverhouding te ontwikkel. Indien die Khoena onder die Cochoqua suksesvol sou wees, sou Kaapstad en inderdaad Suid-Afrika se geskiedenis anders gelyk het. Krotoa is deur die Hollanders verag vir haar onafhanklikheid en eksperimentele benaderings. Sy is verwerp en behandel soos een wat hulle verraai het. 

Na mate sy al hoe meer 'n uitgeworpene geword het, het sy haar tot alkohol gewend en dit het haar nader aan haar tragiese einde gebring. Die mense wat haar voorheen omarm het, het haar 'n “bedrieglike hoer en 'n feeks” genoem. Volgens Karel Schoeman verwys die nuwe NOIK Kommandeur se joernaal by haar dood na haar “wanordelike lewe” en sê dat sy uiteindelik die vuur van haar luste geblus het deur die passiewe aanvaarding van die dood. Dit lyk asof die joernaal vir ons meer oor die skrywer vertel as oor Krotoa.

Gedurende die laaste dekade van haar lewe het sy duidelik aan post-traumatiese stres-sindroom gely na die omwentelinge, teleurstellings en misbruik wat sy tien jaar lank ervaar het. Krotoa, wat 'n sorgelose kind in die opwindende wêreld van die Camissa-nedersetting was, het beland in 'n warrelwind van veranderinge wat deur die Hollandse nedersetting na die drumpel van haar dorpie gebring is. Net soos die Camissa-hawegemeenskap is sy meegesleur deur die kragte en ervarings van die tyd, maar sy het begin om haar eie vorm van weerstand te ontwikkel nadat sy haar gedurende haar tienerjare onder uitsonderlike omstandighede bevind het. Sy het potensiële geleenthede gesoek en benut. Sy was glad nie 'n gewone jong vrou nie. Tot met haar dood het sy geweier om agterlik te wees en sy het die samelewing waarin sy gebruik en misbruik gevoel het, vervloek.


Die erflating

Sonder Krotoa en die inligting wat sy verskaf het, sou Jan van Riebeeck nooit in staat gewees het om so 'n magdom inligting oor die plaaslike inheemse mense aan ons oor te dra soos wat dit in sy joernale en briewe opgeteken is nie. Dit is 'n wonderlike erfenis wat Krotoa baie meer maak as 'n tolk en diplomaat. Sy was ook 'n kroniekskrywer.

Krotoa se lewe het aangesluit by die verborge verhaal van die mense en gebeure op die oewers van die Camissa-rivier gedurende die 1650’s en 1660’s. As ons kyk na die lewe en tye van Krotoa en die ander inboorlinge en slawe van daardie tyd, ontdek ons iets wat mettertyd verlore gegaan het. Soos die Camissa-rivier wat onder die stad Kaapstad versteek is, steeds vloei, so is dit met die afstammelinge van die Camissa-volk. 

Krotoa is een van die sleutels waarmee die erfenis van talle Suid-Afrikaners ontsluit word. As ons haar met haar afstammelinge in verband bring, herontdek ons die krag wat hierdie voorouer gesimboliseer het. Op die gebied van taal was Krotoa die pionier van die Afrikaanse taal. As tolke was Xhore, Autshumao, Krotoa en Doman die eerste vroedvroue in die geboorte van die taalmengsel waaruit die Afrikaanse taal ontstaan het. Hulle, en die eerste slawe, was die eerstes wat die grens van suiwer Hollands oorgesteek het na die wêreld van die dialek Kaaps-Hollands of die Kreoolse Afrikaans.

Krotoa was die eerste inheemse Afrikaan wat in Suid-Afrika bekeer is en 'n Christen geword het, en sy was ook die eerste inheemse Afrikaan wat formeel met 'n Europeër getrou het.


Haar kinders

Krotoa se kinders, Pieternella van Meerhof en Salomon van Meerhof, is in 1677 per skip na Mauritius gestuur as beskermlinge van Theuntje Bartholomeus van der Linde en haar man Bartholomeus Borns op die skip “De Boode”. Jacobus van Meerhof, die oudste van die kinders, is later ook na Mauritius gestuur om by hulle aan te sluit. Hy sou later teruggestuur word na die Kaap, maar hy het onder geheimsinnige omstandighede tydens die terugvaart gesterf.

Krotoa het ook twee kinders gehad wat deur die amptenare as “buite-egtelik” beskou is. Hierdie kinders was Jeronimus en Anthonij. Dit is nie bekend onder wie se sorg hulle geplaas is nie en of die kerkraad of die owerhede by die Kasteel hulle enigsins oor hierdie kinders ontferm het. Die rekords toon niks aan nie. Die enigste rekords oor Anthonij is dat hy alleen, ongetroud en sonder kinders was toe hy in 1713 tydens die pokke-epidemie dood is. Daar is een aanduiding dat Anthonij se van Everts was, wat daarop dui dat hy grootgeword het onder die sorg van Anne en Evert van Guinee, twee vrygelate Afrika-slawe.

Pieternella sou saam met haar man, Daniel Saayman, na die Kaap teruggekeer het nadat die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (NOIK) Mauritius verlaat het. Sy is op die ouderdom van 50 in Stellenbosch oorlede gedurende die pokke-epidemie van 1713. Daniel is die volgende jaar oorlede.

Krotoa se afstammelinge kan teruggespeur word deur vier van Petronella se agt kinders, deur die Diodata-dogters in Indonesië, en die Bockelenberg-, De Vries- en die Zaaiman-lyne (Zaayman of Saayman) in die Kaap.

  • Catharina Zaaiman, wat in 1678 in Mauritius gebore is. Sy het met Roelof Diodata getrou en twee kinders, Elizabeth en Agnita, gehad. Die gesin het van Mauritius af verhuis en hulle in Batavia (Jakarta) gevestig.

  • Magdalena Zaayman, wat in 1682 in Mauritius gebore is en met Johannes Bockelenberg getroud is. Hulle het vier kinders gehad, naamlik Petronella, Johannes, Anna Elizabeth en Susanna Bocklenberg.

  • Maria Martha Maryke Zaaiman, wat in 1683 in Mauritius gebore is en met Hendrik Abraham de Vries getroud is. Hulle het vier kinders gehad, naamlik Daniel, Jacob en Izak de Vries.

  • Pieter Zaaiman, wat in 1686 in Mauritius gebore is en met Anna Koopman getroud is. Hulle het agt kinders gehad, naamlik Pieternella, Daniel, Bartholomeus, Engela, Francina, Barend, Cornelis en Christiaan Zaaiman.

  • Hierdie afstammelinge het in talle ander families in Suid-Afrika ingetrou en dit is deur duisende van hierdie afstammelinge met baie verskillende vanne wat die ou Camissa-gemeenskap van die Goringhaicona steeds voortleef.

Geen kinders is vir Pieternella se ander vier kinders opgeteken nie. Haar ander vier kinders was: Eva Zaaiman, wat in 1680 in Mauritius gebore is en aan die Kaap gesterf het; Daniel Zaaiman, wat in 1692 in Mauritius gebore is en aan die Kaap gesterf het; Johannes Zaaiman, wat 1704 in Mauritius gebore is en op die ouderdom van 21 aan die Kaap gesterf het en Christiaan Zaaiman, wat in 1708 in Mauritius gebore is en 9 maande later in Kaapstad oorlede is.


Bronne

  • HB Thom edt; Journal of Jan van Riebeeck 1652 – 1662; Van Riebeeck Society; AA Balkema, Cape
    Town / Amsterdam (1958) –

  • Anna Jacoba Böeseken; Die dagregister en briewe van Zacharias Wagenaer 1662 – 1666; (1973)

  • Anna Jacoba Böeseken; Memoriën en instruction 1657 – 1699; (1966)

  • Mansell Upham; Made or Marred by Time;

  • Karel Schoeman; Seven Khoi lives; – Cape biographies of the seventeenth century; Protea; Pretoria
    (2009)

  • Alan Mountain; First People of the Cape; David Philip; Cape Town (2003)

  • Riaan Voster and Alan Hall; The Waters of Table Mountain;

  • Nicolaas Vergunst; Hoerikwaggo – Images of Table Mountain; SA National gallery Iziko Museums;
    Cape town (2000)

  • Nigel Worden, Elizabeth van Heningen, Vivian Bickford-Smith; Cape Town Making of a City; David
    Philip; Cape Town (1998)

  • Adrien Delmas & Nigel Penn; Written culture in a Colonial context: Africa and the Americas 1500 –
    1900; Written culture and the Cape KhoiKhoi – From travel writing to ‘full description; UCT Press
    (2011)

  • William Crooke edt; Tavanier: Travels in India; transl V Ball; (1925)

  • Sir Richard Carnac-Temple; The travels of Peter Mundy in Europe and Asia 1608 – 1667; (1967)

  • JP Cortemünde; Adventures at the Cape of Good Hope; (1962)

  • HCV Leibbrandt; Precis of the archives of the Cape of Good Hope; Journal 1662-70, 1671-74; WA
    Richards & Sons (1901, 1902)

  • John Cope; King of the Hottentots; Howard Timmins; Cape Town (1967)

  • Richard Elphick; KhoiKhoi and the founding of White South Africa; Raven Press; Johannesburg (1985)

  • Schapera edt; Dictionary of South African Biography: The Early Cape Hottentots – Willem ten Rhijne;
    (1933)


'n Paar hedendaagse plekke

  • Die Parade in Kaapstad is die oorspronklike terrein van die Fort de Goede Hoop uit Krotoa se tyd. In die gang van die onderste vloer is die bewaarde watergang en reservoir van die Camissa-stroom soos wat dit deur die Hollanders gebou is om die water te benut. 

  • Die ondergrondse Camissa-rivier. Toere kan onderneem word om ondergronds na die Camissa te kyk.

  • Die NGK-gebou langs die Camissa en langs die slawekwartiere is die plek waar sy begrawe is. As gevolg van swak navorsing deur mense wat die Khoi-geskiedenis wou laat herleef en die SANW is die oorblyfsels ongelukkig simbolies langs die Camissa verwyder en verskuif na die kasteel wat in haar leeftyd nog nie gebou was nie. 

  • Robbeneiland: Sy is talle kere na Robbeneiland verban.

 
 
Previous
Previous

Adolph “Sailor” Malan

Next
Next

Clements Kadalie