Cape Town Museum

View Original

Adolph “Sailor” Malan


Mensregteaktivis en oorlogsheld

Adolph Gysbert “Sailor” Malan was 'n leier van die oorwegend blanke Suid-Afrikaanse protesbeweging in die eerste paar jaar van die 1950’s. Dit het as die “Fakkelkommando” bekend gestaan. Die groep is gevorm deur die Springbok Legioen en elemente binne die Verenigde Party wat 'n onpartydige komitee saamgestel het, naamlik die War Veterans Action Committee (WVAC). Die ooreenkoms tussen die linkse leiers van die Springbok Legioen, Cecil Williams en Jack Hodgson, en die Verenigde Party is deur Vic Clapham, 'n Springbok Legioen-man in die Verenigde Party, bemiddel. 

Hierdie aanvoorders het ooreengekom om 'n WVAC-span saam te stel wat bestaan het uit Adolph “Sailor” Malan as president, Louis Kane-Berman, Ralph Parrott, majoor Pretorius en Doreen Dunning. Hulle is gekies as gevolg van hulle leierskapsrolle as soldate en omdat hulle verklaar het dat hulle nie aanhangers van politieke partye was nie. Dit was nie heeltemal waar nie, aangesien sommiges wel 'n rol in die Verenigde Party gespeel het, maar hulle militêre ondervinding het swaarder geweeg.

Springbok Legioen-persoonlikhede het talle lede van die Verenigde Party ingesluit, onder andere Harry Schwartz, wat steeds in die agtergrond 'n belangrike rol gespeel het in die organisering van die Fakkelkommando. 

Sailor Malan is geïsoleer en uit die geskiedenis weggelaat weens sy leiersrol en die dinge wat hy in die openbaar gesê het ter verdediging van demokrasie, konstitusionalisme, geregtigheid en nierassisme, en omdat hy opgestaan het vir die armes en veral vir mense van kleur. Hy was 'n vegvlieënier in 'n Spitfire en oorlogsheld in die slag om Brittanje. Aangesien hy sterk gekant was teen die Nazi’s, was hy ontsteld om te sien dat dit aan die toeneem was in sy vaderland. Dit is hoe hy onthou moet word – 'n oorlogsheld en 'n teenstaander van die ontstaan van die Suid-Afrikaanse antwoord op die Derde Ryk in Duitsland. 

Die plaasseun van Wellington, met 'n Afrikaanse pa en 'n Britse ma, is in 1910 gebore. Hy is Adolph Gysbert Malan gedoop. In September 1963 was hy op die ouderdom van 52 jaar een van die groot Suid-Afrikaners van die 20ste eeu. Hy het sy lewe lank die leuse van sy eskader aangehang – “Ek is vir niemand bang nie”.


Ek sal my verheug

Ten spyte van sy prestasies is sy teenkanting teen die apartheidsregime en sy bydrae tot die bekamping van die bedreigings van Naziïsme en fascisme na sy dood vergeet. Op sy grafsteen het gestaan: “In the shadow of Thy wings will I rejoice”. Toe hy opgehou vlieg het, is die einde van sy lewe tragies oorheers deur Parkinson se siekte. Hy het vertroosting gevind in sy verhouding met sy liefdevolle gesin, sy vrou Lynda, sy seun Jonathan en dogter Valerie, asook sy hond. 

In 'n stadium het Sailor Malan die lugruim bo Londen oorheers in die slag om Brittanje in 1940. Hy was 'n vleuelkommandeur in Spitfire Eskader 74 en hy word onthou as een van die twee grootste vlieëniers met die hoogste getal vyandelike vliegtuie wat hy uit die stuurkajuit afgeskiet het. Hy het volgens die “amptelike telling” 34 vyandelike vliegtuie afgeskiet. 

Malan, 'n plaasseun van Wellington, het sy eerste skote met 'n “kettie” geskiet, maar hy het gevorder en 'n bedrewe skut geword. Op die jong ouderdom van 13 het hy die skool verlaat en by Generaal Louis Botha se Maritieme Kollege aangesluit, waar hy 'n paar harde lesse moes leer. Soos talle jong mans is hy gemotiveer deurdat hy die wêreld as 'n handelseeman wou sien.

Op die ouderdom van 15 het hy as 'n seeman vir die Union Castle-skeepsredery gewerk. Hy was vir die volgende dekade 'n seeman. Hy het begin om belang te stel in die wonderlike vliegmasjiene. Dié keer om die wêreld vanuit die lug te kan sien. Adolph Malan het ook opleiding ontvang by die Royal Naval Reserve en die rang van onder-luitenant verwerf. Dit was hierdie oorskakeling van die vloot na die lugmag wat hom die bynaam “Sailor” besorg het. Dit blyk dat hy en Lynda, die vrou met wie hy getrou het, nie een van sy twee voorname gehou het nie. Lynda het hom John genoem. Dit is egter die feit dat hy meer as 'n dekade op die see deurgebring het, wat veroorsaak het dat almal hom “Sailor” genoem het. 

Sailor Malan is egter nie net deur 'n avontuurlustige gees en nuuskierigheid aangespoor om die wêreld te sien nie. Talle jong vroue en mans regoor die wêreld, ook in Suid-Afrika, het die opkoms van fascisme en Naziïsme in Spanje, Italië en Duitsland dopgehou en hulle was bekommerd oor wat besig was om te gebeur. Party jong Suid-Afrikaners, soos die skrywer Uys Krige, het geantwoord op die wêreldwye oproep om by die internasionale brigades aan te sluit om die Spaanse demokraties verkose linkse regering en Republiek te verdedig. Sailor Malan het gesien hoe die oorlog besig was om te ontwikkel en sy geslag het die impak van die Eerste Wêreldoorlog, wat wêreldwyd gevoel is, beleef. Hy was ook bewus van die sterk nasionalisties-sosialistiese onderstrominge in die Suid-Afrikaanse politiek.


In wese 'n plaasseun

Hoewel hy van die Kaapse plase af gekom het, het hy 'n algemeen progressiewe internasionale uitkyk gehad. 'n Herhalende tema wat regdeur sy lewe na vore gekom het, is dat hy gekke nie kon verdra nie. Hy het 'n afkeur gehad van luidrugtige politici en mense wat nie bereid was om armoede uit te wis en om daad by die woord te voeg nie. 

Hy het gefokus op die feit dat ideologieë nie kos in mense se monde gesit het, dakke oor hulle koppe verseker het en werksgeleenthede verskaf het om 'n lewe te kan verdien nie. Vir Sailor Malan was leiers soos Mussolini, Hitler en Franco psigopate en opswepers en klein mannetjies wat die wêreld na ellende en slagting gelei het, en hulle moes gestop word. Vir hom was die beskerming van demokratiese waardes en instellings en die verdediging van die mensdom teen die tirannie van die Nazi’s en die Spilmoondhede 'n prioriteit. Hy het krygsdiens nie ligtelik opgeneem nie en hy is nie tot krygsdiens opgeroep nie. Hy was 'n professionele lid van die lugmag wat deur oortuiging aangedryf is. 

Uit die lesse van die Eerste Wêreldoorlog het Sailor reeds geweet dat see- sowel as lugoorlogvoering in 'n nuwe oorlog sou oorheers en dat spoed, senuwees van staal en akkuraatheid die lomp tipe oorlogvoering van 'n dekade tevore sou vervang. Dit was hierdie agtergrond wat meegebring het dat hy in Januarie 1936 by die lugvaartskool in Bristol vlieglesse geneem het op die Tiger Moths. Teen die einde van die jaar het hy na meer gevorderde vlakke en vliegtuie gevorder en hy het by vegeskader 74, wat die Tiger Squadron genoem is, aangesluit. 

Teen Augustus 1937 was hy 'n waardnemende vlugkommandeur van “AFlight en hy was bekend as 'n puik skerpskutter. Gedurende hierdie tyd het hy sy bekende leierskapsvaardighede ontwikkel en in 1939 is hy tot vlugluitenant bevorder. Aan die begin van September 1939 was hy die leier van die rooi afdeling van “AFlight en was hy die vlieënier van 'n Spitfire K9864 in sy eerste patrollie tydens die oorlog. 

Teen Junie 1940 was hy gereeld in die lug en was hy in hewige gevegte in die lugruim bo Frankryk betrokke. Die gesogte Flying Cross is aan hom toegeken. Sailor Malan het in Augustus 1940 as Kommandeur van 74-eskader leiding geneem in die lug tydens die slag van Brittanje. Die eskader het 38 vyandelike vliegtuie afgeskiet. Binne die volgende paar weke het hulle 84 vliegtuie afgeskiet en baie skade aangerig aan Nazi-Duitsland se lugmag. Die gesogte diensorde is in 1940 op Oukersaand aan Sailor toegeken. Dit is gevolg deur die toekenning van die gesogte diensorde in Julie 1941.

Die eervolle vermelding lees soos volg:

“Hierdie offisier het die grootste moed en minagting vir die vyand getoon terwyl hy sy vleuel in verskeie onlangse operasies in die lugruim bo die noorde van Frankryk gelei het. Sy kalm oordeel, uitsonderlike vasberadenheid en vermoëns het hom in staat gestel om sy bevestigde oorwinnings oor vyandelike vliegtuie van 19 tot 28 te verhoog, benewens nog 20 wat beskadig en waarskynlik vernietig is. Sy rekord en optrede verdien vir hom die grootste agting en toewyding van sy makkers in die Lugvleuel. Die Lugvleuel het die afgelope twee weke talle oorwinnings oor die vyand behaal met 42 vyandelike vliegtuie wat vernietig is, nog 15 wat waarskynlik vernietig is en 11 wat beskadig is.”

Vlieënier met die hoogste telling

Daar is opgeteken dat Sailor Malan in 1941 27 vyandelike vliegtuie self afgeskiet het, dat hy 7 saam met ander beskadig het, en 2 gevalle was onbevestig. Daar is ook moontlik nog 3 vyandelike vliegtuie vernietig en nog 16 beskadig. Hy was destyds die Koninklike Lugmag se voorste vlieënier. Daar is opgeteken dat hy een van die vlieëniers met die hoogste telling is wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Koninklike Lugmag gedien het. Hy is op 6 Januarie 1942 na die reserwemag oorgeplaas as 'n eskaderleier. As deel van sy werk het hy deur die VSA getoer. In 1943 het hy die stasiekommandeur by Biggin Hill geword en hy is op 1 Julie 1943 tot vleuelbevelhebber bevorder. In Oktober 1943 het hy die bevelhebber van die 19 Gevegsvleuel van die Koninklike Lugmag se tweede taktiese lugmag geword. Daarna het hy die bevelhebber van die 145 Gevegsvleuel geword.

Tydens die hoogtepunt van die lugoorlog het vrywilligers van kleur van die Verenigde State en Kanada, die Britse kolonies in die Karibiese Eilande, Afrika en Indië (wat aanvanklik letterlik as bediendes na die oorlog gebring is) begin om as gelykes in die gewapende magte te veg. Hulle het die geleentheid gekry om professionele en gelyke soldate te wees en hulle kon uitblink. 'n Minder bekende storie is die verhaal van hoe die Koninklike Lugmag 'n ernstige tekort aan vlieëniers gehad het en verplig was om mense van kleur van die Karibiese Eilande, Nigerië, die Goue Kus, Sierra Leone, Maleisië en Indië toe te laat. Sailor het op 'n manier wat hy nooit in Suid-Afrika ervaar het nie by mense van kleur mense betrokke geraak, met hulle saamgewerk en daar het kameraadskap tussen hulle ontstaan.

As 'n bevelvoerder het hy nie net die vlieëniers se oorwinnings met hulle gedeel nie, maar ook hulle trane. Hy het hulle diepe persoonlike hartseer en hulle nederige agtergrond met hulle gedeel. Sailor Malan is diep geraak deur persoonlike verlies tydens die oorlog toe sy jonger broer, Francis “George” Malan, van die Koninklike Lugmag se 72 Eskader en 'n Spitfire-vlieënier in Tunisië, op 26 April 1943 dood is. 

Soos talle lede van die vlieëniersfamilie het die Malan-broers uit 'n nederige huis gekom. Hulle het as kinders gaan werk en kon verhale vertel van hoe hulle oorleef het. Die ervare vlieënier kon selfs vertel van die tyd toe hy 'n nuweling in die vloot was. Die feit dat hy van Afrika was, het die ander vlieëniers van kleur net so veel gefassineer as die feit dat hy 'n seeman was voor hy 'n vlieënier geword het. 

Malan het daarvan bewus geraak dat die mense van kleur in Suid-Afrika swak behandel is. Die kameraderie wat tydens gevegte ontwikkel het, kon nie sommer net tot onbenulligheid vervaag nie. Vlugsersant James Hyde van Trinidad, vlugluitenant Vincent Bunting van Kingston, Jamaika, en vlugoffisier Mahinder Singh Puji van Indië en talle ander was sy “familie” in die lug. Hierdie band sou geen betekenis gehad het as dit nie behoue gebly het nie en as hulle in hulle vaderlande nie dieselfde geregtigheid kon kry as waarvoor hulle geveg het nie.

Later jare, lank na die oorlog, het vlieëniers van die Karibiese Eilande mooi herinneringe gehad en het hulle eer betoon aan hulle kameraad en leier terwyl Malan in sy vaderland gehoon is en sy herinnering deur wit rassiste onderdruk is. Teen die einde van 1941 het hy 34 vliegtuie afgeskiet en was hy verreweg die beste geallieerde vlieënier van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het ook die eerste kredietwaardige handboek vir luggevegte opgestel – “Sailor Malan’s ten rules for Air Fighting”. Hierdie reëls was 'n weerspieëling van sy totale benadering tot die lewe voor die oorlogsjare en dit het hom baie gehelp om die situasie in Suid-Afrika na die oorlog te hanteer. Dit was kort, skerp sinne, presies op die punt af en opgestel vir oorlewing en oorwinning. Soos alle groot leiers in die oorlog, het Malan dit sonder enige disrespek beskou as belangriker om te lewe en nog 'n dag te veg, eerder as om die sterwe vir die saak te romantiseer. 

Sailor Malan het ook die volgende toekennings ontvang: Die Belgiese Croix de Guerre met brons Palm, die Tsjeggo-Slowaakse Militêre Kruis, die Franse Nasionale Orde van die Erelegioen, in die graad van Offisier van die French Croix de Guerre.

Sailor Malan het na die oorlog in 1946 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy was 'n legende en is as die gewildste oorlogsheld beskou. Baie van die mense in die Nasionale Party het hierdie helde egter gespot en “soutpiele” genoem. Hulle het hulle as verraaiers beskou omdat hulle die Nasionaliste se bondgenote in die Spilmoondhede (waarvan talle tydens die oorlog as Nazi-ondersteuners gevange geneem is) verslaan het. Oudsoldate van Malan se kaliber, asook ander, was bekommerd omdat die Nasionale Party en hulle ideologie baie soos dié van die Nazi’s gelyk het. In talle groepe oral in die land en in tuisdorpe waar hulle deur die nasionalistiese ekstremiste aan die skandpale gebind is, het hulle begin vra wat hulle kon doen om te probeer om hierdie opkoms van die Suid-Afrikaanse Reich stop te sit.

Dit is die agtergrond waarteen die veterane se protesbeweging – die Fakkelkommando – ontstaan het. Drie jaar lank, 1951 – 1954, was daar 'n tydperk toe die protesbeweging hoofsaaklik bestaan het uit gedemobiliseerde blanke oudsoldate wat in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het. Daar is informeel na hulle verwys as die Fakkelkommando. Die beweging het onstaan uit protes teen die vernietiging van konstitusionalisme en teen die verwydering van stemreg vir mense van kleur en die instelling van apartheidsbeleide.

Dit was minstens aanvanklik die fokus, maar die beweging het gou 'n baie nouer siening gehad, wat in lyn was met die siening van een faksie binne die Verenigde Party, naamlik diegene wat 'n vroeë algemene verkiesing wou hê in 'n poging om die verkiesingsknoeiery waarmee die Nasionale Party besig was te stuit. Die Nasionale Party het probeer om die kiesergetalle te manipuleer in bepaalde kiesafdelings waar die mense hulle saak ondersteun het. 


Dramatiese proteste in die nag

Die Fakkelkommando se dramatiese protesoptogte in die nag het regoor Suid-Afrika by 'n paar geleenthede groot skares van 25 000 – 30 000 gedissiplineerde optoggangers gelok. Die enigste buitengewoon groot byeenkoms van tussen 75 000 en 150 000 optoggangers wat oudsoldate sowel as groot getalle VP-ondersteuners ingesluit het, was belaai met emosie oor die verdediging van Jan Smuts se erflating. Volgens enige standaard was dit 'n groot opkoms vir 'n optog en dit is met militêre dissipline uitgevoer. 

Die oorspronklike byeenkomste was duidelik meer op anti-apartheid en die bevordering van konstitusionalisme gefokus, terwyl die superbyeenkoms baie meer gehandel het oor interne politiek van die blanke establishment. Verwarring het gevolg en die Fakkelkommando het begin agteruitgaan en verdwyn. Talle van die optoggangers het hulle selfs by die Nasionale Party geskaar.

Die term “Fakkelkommando” is afgelei van een van die veldtogte in Noord-Afrika teen die Nazi-weermag in Algerië en Marokko in 1942. Dit het as die Fakkelveldtog bekendgestaan. Die naam het ook ontstaan omdat die optoggangers snags tydens die optogte fakkels hoog in die lug gedra het om die donkerte te verdryf. 

Die Fakkelkommando is op die been gebring deur die Springbok Legioen, met sy sterk linkse leierskapskomponent, sowel as elemente binne die Verenigde Party. Smuts en sy Verenigde Nasionale Party het tydens die oorlog onwillige maar vriendelike verhoudings met die Springbok Legioen gehad, ondanks sy linkse leierskap. Later jare was daar talle onwaar stories en propaganda oor hoe die Fakkelkommando ontstaan het. Die ware verhaal is onderdruk, net soos wat die ware verhaal van die rol wat Adolph “Sailor” Malan, wat die President van die Fakkelkommando geword het, onderdruk is.

Die Springbok Legioen was oop vir alle soldate, ongeag kleur, en het 'n soldatemanifes gehad. Die organisasie het ontstaan tussen soldate van die 9de verkenningsbateljon van die Suid-Afrikaanse tenkkorps, die komitee vir soldatebelange wat deur lede van die eerste Suid-Afrikaanse brigade in Addis Abeba begin is, en die unie van soldate wat deur dieselfde brigade in Egipte gevorm is. Hulle het soldate se welsyn sterk verteenwoordig, maar dit was ook 'n organisasie wat sterk deur die anti-Nazi-ideologie aangedryf is. 

Die Springbok Legioen het 'n sterk kommunistiese linkse komponent op verskillende vlakke van die leierskap gehad. Dit was 'n sterk punt sowel as 'n swak punt. Na die beëindiging van die oorlog het die organisasie taamlik vinnig agteruit gegaan tydens die anti-linkse veldtogte in Suid-Afrika en McCarthyisme in die VSA. Teen 1950 het die ledetal van die organisasie, wat in 'n stadium 65 000 was, gekrimp tot net 'n paar honderd. Linkse leiers destyds was onder andere John Morley, Cecil Williams, Jack Hodgson, Joe Podbury, Joe Slovo, John o’Meara, Rusty Bernstein, Jock Izakowitz, Wolfie Kodesh en Fred Carneson. Twee van hulle, Cecil Williams en Jack Hodgson, het die mandaat gekry om gesprekke te voer met voormalige Springbok Legioen-lede van die Verenigde Party, en Vic Clapham het die bemiddelaar of fasiliteerder van gesprekke met die Verenigde Party geword.


Die enigste man vir die taak

Na pragmatiese en eerlike gesprekke het die groep, wat hoofsaaklik uit linkse leiers van die Springbok Legioen bestaan het, ooreengekom om toe te laat dat 'n komitee van nie-volgers – 'n aksiekomitee vir oorlogsveterane (WVAC) – volgens die ooreenkoms met inisieerders van die Springbok Legioen en die Verenigde Party gevorm word om die proses verder te voer.

In die samesprekings oor wie die leier van die komitee moes wees, het Sailor Malan uitgestaan as die enigste man vir die taak. Hy het dit reeds algemeen bekend gemaak dat hy 'n teenstaander was van die politieke ongeregtighede teenoor die gekleurdes in Suid-Afrika, die anti-konstitusionalisme en die stadige beweging na 'n plaaslike weergawe van Naziïsme. Adolph “Sailor” Malan het die rol as leier aanvaar op voorwaarde dat daar op die weg vorentoe by hierdie beginsels gehou sou word. Alle openbare eise moes volgens die oorspronklike beginsels geskied.

Sailor Malan het weerstand gebied teen pogings van die Verenigde Party, die Liberale Party wat in 1953 begin is, verligte elemente van die Nasionale Party, die Oppenheimers en ander besigheidmense om homself in lyn te bring met spesifieke politieke en ekonomiese belange van magsgroepe van daardie tyd. Almal sou gevolglik daarop aanspraak maak dat hy hulle man was, buiten die Nasionale Party, wat Sailor Malan afgemaak het as iemand wat 'n front was vir die kommunistiese linkses. In werklikheid was die Kommunistiese Party van Suid-Afrika reeds in 1950 verban en talle van die voormalige lede van die party was op die lys van vyande van die staat en daar was reeds inperkingsbevele teen hulle uitgereik. Teen 1952 het die apartheidsregering die Springbok Legioen ook tot niet gemaak. Sailor Malan was nie 'n kommunis nie. Hy was bloot 'n beginselvaste oorlogsheld wat sterk standpunt ingeneem het oor konstitusionalisme, geregtigheid, nie-rassisme en teen armoede en die gebrek aan hoop. Later jare was Sailor Malan geïsoleer, maar hy het tot sy dood by sy beginsels gehou.


Die doodskoot

Toe die apartheidsregime in 1952 'n klopjag op die kantore van die Springbok Legioen uitgevoer het, is die finale doodskoot toegedien. Nie die voormalige lede of die Verenigde Party en die Fakkelkommando het die Springbok Legioen in hierdie kritieke fase verdedig nie. Toe die KPSA onwettig verklaar is, was daar skaars 'n woord van hulle kiesers. Toe die apartheidswette uiteindelik afgekondig is, is daar ook skaars 'n woord gesê. Talle mense wat leiers van die Springbok Legioen was, het stigterslede geword van Umkhonto we Sizwe – die Spies van die Nasie – die militêre vleuel van die vryheidsbeweging, asook van die Kongres van Demokrate, die Liberale Party, die Demokratiese Party en partye wat hulle opgevolg het. 

Weens sy aanvaarding van hierdie leierskaprol in die Fakkelkommando en die gerugte oor diegene wat probeer het om hom aan hulle kant te kry, het die Nasionale Party die gerugte gebruik om Sailor Malan te beskerm as “'n vlieënde poedel” wat 'n front vir Jan Smuts was, asook as 'n oorlogsheld wat uit Brittanje ingevoer is en die mondstuk was van “ryk Jode” soos die Oppenheimers. Dit het die man wat die leuse van Eskader 74, naamlik “ek is vir niemand bang nie” sy eie gemaak het, nie van stryk gebring nie. Hy het steeds gefokus op sy droom oor 'n Suid-Afrika met demokrasie, geregtigheid en 'n beter lewe vir almal. Dit was 'n blanke Suid-Afrikaner wat sy tyd vooruit was en wat selfs ook ver voor die Fakkelkommando (wat na 1952 as ’n verkiesingenjin vir die Verenigde Party gemanipuleer is) was.

Ongeag die werklike dapperheid en beginselvastheid van sommige van die leiers, veral Adolph “Sailor” Malan, was die Fakkelkommando in werklikheid baie meer genuanseer. Onderliggend aan hierdie proteste was 'n stryd tussen die linkse inisieerders en hulle standpunt teen apartheid en die regses wat die inisiatief oorgeneem het en voorstanders was van die idee dat daar na die Smuts-era teruggekeer moes word deur middel van 'n oorwinning vir die Verenigde Party in die 1953-verkiesing. Dit het in effek die groep se laaste stelling van die VP geword en tesame met die stryd tussen die linkses en die regses het die NP uiteindelik die meeste van die protesgangers na hulle oorgehaal.


Nasionale Party se verkiesingsknoeiery

Die eerste vergadering wat die organisasie gehou het om hulself as die WVAC bekend te stel, was 'n kransleggingseremonie by die Johannesburgse senotaaf, waar hulle 'n kis met die woorde “DIE GRONDWET” daarop geplaas het. Twee vergaderings is in Mei 1951 gehou. Albei vergaderings is deur ongeveer 25 000 mense bygewoon en die algemene naam “Fakkelkommando” het in gebruik gekom. Die skares het nie net uit die veterane se geledere gekom nie, aangesien VP-ondersteuners en 'n groot verskeidenheid landsburgers wat die aksies ondersteun het, deel geraak het van die organisasie. Teen die einde van die jaar het 130 000 veterane as lede van die WVAC aangesluit. Die ledetal het egter nie verder gegroei nie. Die Springbok Legioen het talle lede verloor omdat daar 'n te hegte verhouding met die kommuniste was. 

Laat in 1952 het die lidmaatskap van die WVAC aansienlik gedaal. Daar is dikwels oordryf deur te sê dat die opkoms van 'n geraamde 150 000 persone, waaronder baie optoggangers van kleur, dubbel die getal was. Daar is baie meer klem geplaas op konstitusionalisme en die teenkanting teen die Nasionale Party se verkiesingsknoeiery as op die verdediging van stemreg vir gekleurdes of om teen apartheid gekant te wees. Die sterkste motivering is gebied deur mense in die Verenigde Party om 'n vroeë algemene verkiesing te kry om te verhoed dat die NP weens verkiesingsknoeiery 'n permanente politieke oorwinning behaal. 

Talle lede van die weermag en polisie, sowel as staatsdienswerkers, was baie bekommerd oor hulle poste omdat die Nasionale Party stoere nasionaliste vervang het met mense met republikeinse oogmerke en doelwitte.

Daar is 'n indruk geskep dat die NP besig was om die ware blanke beskawing te vernietig. Ons moet nie toelaat dat die blankes se massa-vrees vir hul eie toekoms die oorspronklike doelwitte van Sailor Malan, die Springbok Legioen en inderdaad die vroeë stigters van die Fakkelkommando en hulle beginsels laat verwater nie.


Oogmerke van die Fakkelkommando

Daar was talle teenstrydighede binne die Fakkelkommando en 'n mens kan die organisasie net behoorlik beoordeel volgens die eise en formele stand daarvan, eerder as die fabrikasies van latere propagandistiese sienings. Dit het wel die proteste tydens die verwydering van stemreg vir gekleurdes beklemtoon, maar hulle formeel verklaarde bedoelings eerder as uitdruklike anti-apartheidsoogmerke en -doelwitte was:

“Ons oudweermagsmanne en -vroue en ander landsburgers wat hier byeen is, protesteer in die sterkste terme moontlik teen die aksie van die huidige regering deurdat hulle voorstel inbreuk maak op die gees van die grondwet.”

“Ons beloof plegtig om elke konstitusionele stap in die belang van ons land te neem om 'n onmiddellike algemene verkiesing af te dwing.”

“Ons doen 'n beroep op ander oudweermagsmanne en -vroue, oudlede van diensorganisasies en demokratiese Suid-Afrikaners om hulself tot hierdie saak te verbind.”

“Ons neem ons voor om die bostaande besluite na die Eersteminister en die leiers van die ander politieke partye aan te stuur.”

'n Baie nuttige, akademiese, onpartydige weergawe van daardie tyd verskyn in 'n referaat wat Michael Fridjon tydens 'n seminaar oor Afrikastudies gelewer het, getiteld “The Torch Commando and The Politics of White Opposition. South Africa 1951 – 1953.” Bill Nasson gee 'n uitstekende en gedetailleerde beskrywing van Adolph Sailor Malan as 'n lugmagman en as 'n persoon. Hierdie uitstekende studies en ontleding gee vir 'n mens 'n baie minder bevooroordeelde weergawe as gevalle waar dinge vererger word deur uitgebreide en uiters onakkurate post-apartheidsverhale oor die Fakkelkommando en die Stael-kommando se proteste. 

Sailor Malan het politieke partydigheid en twiste oor alledaagse kwessies opsy gestoot en waardes versterk. Hy het mense verenig om daardie waardes voor te staan. Hy het beklemtoon dat witmense en mense van kleur moet saamstaan omdat hy gevoel het dat as een seergemaak word, almal seergemaak word. Hy het die apartheidsbeleide, die politieke boewery en die opkoms van 'n afdwaling, wat hy in die Europese lugruim beveg het, aanskou. 

Ons moet nie die man en die waardes wat hy voorgestaan het verloor deur sy nagedagtenis net met 'n handelsmerk te assosieer nie. Kaapstad en die omliggende gebied het vir ons wonderlike seuns en dogters gegee wat uitstaan as 'n baken in die nasionale en internasionale arenas. In die skaduwee van Sailor Malan se vleuels kan ons ons ook verheug. Ons moet Sailor Malan se woorde by die aanvanklike Johannesburgse byeenkoms van die WVAC onthou:

“Die krag van hierdie byeenkoms is 'n bewys dat die mans en vroue wat in die oorlog vir vryheid geveg het, dit waarvoor hulle geveg het nog koester. Ons is vasbeslote om nie die vrugte van daardie oorwinning ontsê te word nie.”


Bronne

  • Michael Fridjon; The Torch Commando and the politics of white opposition – South Africa 1951-1953; University of Witwatersrand – African Studies Seminar; (1976)

  • Bill Nasson; A flying Springbok of wartime British skies: A.G. ʻSailorʼ Malan; University of Stellenbosch (2008); also UCT Extra-Mural Studies Department Summer School; Africa and Comparative History Seminar in the UCT – Department of Historical Studies

  • Joshua N Lazerson; Against the tide; Whites in the Struggle against Apartheid; Westview Press; Oxford; and Mayibuye Press; UWC; (1994)

  • Norman LR Franks; Sky Tiger – The Story of Sailor Malan; Crecy Publishing, Ltd; UK (2012) Philip Kaplan; ‘Sailor’ Malan: BattleOf Britain Legend – Adolph G. Malan; Pen & Sword Aviation; Pen & Sword Books Ltd; South Yorkshire; (2012)


Belangrike punte

  • Die Hugenote Gedenkmuseum op Franschhoek het 'n uitstalling.

  • Daar is talle YouTube-films oor Sailor Malan, sowel as oor die Fakkelkommando se proteste.